Elke hond kry sy dag, dié brak byna ’n naweek

Die Suidernuus-span was verlede Vrydag betrokke in ’n reuse-reddingspoging. Nie minder nie as nege mense het gehelp om klein Zoë, ’n Boston terriër, met haar mense op Struisbaai te herenig.
Ons het die hondjie op die oop erf oorkant ons kantoor in Bredasdorp se Kerkstraat gewaar en haar gaan optel. Ons bure Keith en Tiny Calitz het ons Lucinda Böhm se nommer gegee want “sy weet alles van die honde op die dorp”.
Tuis gekom het die bure - Mariza Warrington, Caroline van Rooyen en Adyson Hoogendoorn - ook kom kyk na die hondjie wat ons teen daardie tyd al Fransie gedoop het.
Sy was vriendelik, duidelik soekend en het ooglopend onlangs moeder geword, want haar melkkliere was geswel. Caroline het voorgestel dat ‘Fransie’ haar babakonyne kan soog om te verhoed dat sy melkkoors kry. Maar ons het besluit om eers weer met haar terug te ry kantoor toe en te sien of sy spoor vat êrens na haar plek toe.
Daar gekom het Keith wild arms geswaai en beduie hy weet aan wie die hondjie behoort. Lucinda het op F acebook ges ien dat die Hoffmann’s van Struisbaai se hondjie vermis is.
Ons het buite gewag totdat Kruger Hoffmann met skreeuende bande aangejaag gekom het.
Hy, vrou, kinders en ses babahondjies tuis was in ’n toestand oor die vermiste Zoë.
Hy het vertel Zoë het op Bredasdorp by die slaghuis by die motorvenster uitgeglip. Eers met hul tuiskoms het hulle gesien sy’s weg
Hy het op sy beurt vir Sarie Kruger bedank wat die boodskap oor Zoë op sosiale media gepos het.
Troeteldier-korrespondent