Struisbaai-Hoenders Kraai Koning by Riversdal Skou
Nelmarie Neethling van Struisbaai se bekende Orpingtonhoenders het ’n rits pryse opgepik by vanjaar se Riversdal Skou.
Op 17 Februarie het beoordelaar Willie Hall van die Wes-Kaapse Pluimveeklub een van Neethling se hane as reserwekampioen in die Orpington-klas aangewys. Een van haar henne het die raskampioentitel verower en is boonop ook die wenner van die oorhoofse wisseltrofee vir die beste groot rashoender by die skou.
Die skou word erken deur die Suider-Afrikaanse Skoupluimvee Organisasie se regulasies en skoureëls, volgens John Cronje, die voorsitter van die pluimvee-afdeling by die Riversdal Skou. Nadat die 2021-skou weens inperkingsmaatreëls afgestel moes word, het die geleentheid vanjaar teruggekeer na ’n groter perseel as voorheen.
“Alles het vlot verloop en ons het oor die algemeen 'n baie lekker Riversdal Skou gehad,” het Cronje aan Suidernuusgesê.
Skoukoningin
Neethling teel al vir 15 jaar met Orpington-hoenders en skou al vir 10 jaar self. Sy het deur die jare in die skou-wêreld bekend geword vir haar pragtige hoenders. In September verlede jaar het sy die nasionale rekord vir die duurste hoender geslaan toe een van haar Buff Orpingtonhane op ’n veiling vir R18 200 verkoop is.
“Gewoonlik onderskat ek my eie [hoenders] se kwaliteit,” het Neethling oor dié prestasie gesê. “’n Mens moet skou sodat jou hoenders gemeet kan word teen ander telers se diere.”
Die groot raskampioenhen is egter nie te koop nie, sê Neethling. “Sy is ’n jaar oud en gaan nog teel. Ek het reeds kuikens van haar.”
Neethling skou vandeesweek weer met haar Orpingtons by die Swellendam Landbouskou, van 3 tot 5 Maart.