Vleilande wat ten alle koste bewaar moet word
Die vleilande in die omgewing van die Nuwejaarsrivier, wat deel uitmaak van wat algemeen bekend staan as die Nuwejaars Wetlands Special Management Area (NWSMA) is onvervangbaar en moet derhalwe ten alle koste bewaar word. Hierdie uitspraak is gemaak nadat 'n kolonie krities bedreigde mikro paddatjies heel toevallig in 'n weggesteekte vleiland in hierdie gebied ontdek is. Die nuus aangaande die ontdekking van die kolonie is met groot opgewondenheid deur navorsers en deskundiges op hierdie terrein ontvang.
Dr Jeanne Tarrant van die Endangered Wildlife Trust het kort nadat die nuus aangaande die ontdekking bekend gemaak is, hierdie pleidooi gelewer. Sy het daarop gewys dat hierdie vleilandgebied, afgesien van die talle bedreigde diere, paddas, voëls en insekte, ook die tuiste is van bedreigde en krities bedreigde fynbos wat endemies aan die gebied is.
Rehabilitasie-projek werp vrugte af
Die NWSMA, 'n inisiatief wat gedryf word deur lede van die plaaslike boeregemeenskap en deur lede van die gemeenskap van Elim, beslaan 47 000 hektaar wat grens aan die mees suidelike punt van Afrika. Volgens die Suid-Afrikaanse Nasionale Biodiversiteits Instituut, is hierdie vleilandgebied onvervangbaar. Die blote feit dat kolonies kritiese bedreigde paddas - wat reeds uitgesterf het in ander sogenaamde “historiese” areas waar hulle vantevore talryk was - hulleself hier kom vestig het, dien as 'n bewys dat die betrokke vleiland area ten volle herstel het. Werk vir Vleilande spanne het met die jare die vleilande in die omgewing stelselmatig herstel en gerehabiliteer. Diersoorte wat eens op 'n tyd, voordat troppe en troppe wild afgemaai is deur jagters en plaaslike inwoners, is ook weer hierheen gebring en hier hervestig.
'n Waterverwante dilemma
Die Vleilande is weer vleilande soos van ouds, maar waar daar in die ou dae nie juis mense was wat gereeld per motor moes rondbeweeg nie, woon en kuier daar nou wel mense wat na skole, winkels en werks- en kuierplekke toe moet ry. Goeie en deurdringende reën wat sedert die begin van die jaar reeds in die gebied geval het, het versadigde watertafels tot gevolg. Waar damme water, wat vantevore ook in driffies op die sandpaaie in die omgewing van Soutbos, Bosheuwel, Brandfontein en Springfield opgedam het na oorstromings, het die water volgens gevestigde inwoners na 'n week of wat opgedroog. Dit gebeur egter nie op die oomblik nie en stem, so wil dit voorkom, almal wat van die paaie gebruik moet maak, ongelukkig.
Ora Laubscher