Pronkstasies van ouds tot niet, aan die verdwyn
“Die moeilike, afgeslote jare wat die inwoners van die mees suidelike distrik ondervind het, het gaandeweg verbeter namate die spoorweë se taklyn van Eersterivier na Bredasdorp nadergekruip het.”
Só skryf Coenraad Potgieter, des t ydse korrespondent en aardrykskunde-onderwyser aan die Hoërskool Bredasdorp, in ’n artikel wat in September 1940 in die Tydskrif van die Suid-Afrikaanse Spoorweë en Hawens verskyn het. Vandag, bykans ’n eeu later, is daar bittermin oor van dié infrastruktuur wat ’n baken van vooruitgang was en vir jare die lewensaar wat die Overberg met die res van die land verbind het.
Aan die begin van die twintigste eeu was die Overberg, en spesifiek Bredasdorp, inderdaad die “suidelikste distrik in Afrika”. Dit is selfs so aangedui op Bredasdorp se stasieteken wat nog staan.
Voor die treinspoor aangelê is, was die streek vir die vervoer van mense, landbouprodukte en posstukke aangewese op perdekarre en ossewaens.
Hierbenewens, skryf Potgieter, het Bredasdorp se enigste hawe wat die hinterland ekonomies bedien het, al in 1875 verdwyn. Teen hierdie agtergrond is dit duidelik dat spoorverbinding, wat Sir Lowrey’s Village in 1902 bereik het, ’n enorme skrede vorentoe was vir die streek.
Die spoorlyn van Sir Lowrey’s Village oor Sir Lowrey’s Pas bereik Caledon in 1910, en in 1912 word Kl ipdale ook per spoor met Kaapstad verbind.
Bredasdorp word in 1924 deel van die spoorweg-netwerk, wat groot ekonomiese voordele vir die streek en sy inwoners gebring het. Omdat spoorvervoer veel goedkoper en vinniger was, het sakeondernemings begin blom en ’n daaglikse posdiens is ingestel. Die dorp het ’n verdere hupstoot gekry toe dit in 1925 ook telefone gekry het.
Klipdale se stasie
Langs Klipdale se stasie is selfs ’n losieshuis gebou waar mense kon oorslaap in die ou dae om vroegoggend die trein Kaap toe te haal. Die gebou staan steeds, maar is nou gevul met strooibale. Die stasiehuise op Klipdale is verkoop en word bewoon. Daar is mooi tuine aangelê en die wurmplaag wat soveel vyebome in die Overberg doodgemaak het, het nie Klipdale se vyebome getakel nie.
’n Trots aan plek
Die onderskeie stasiemeesters het later fluks meegeding om wisseltrofeë wat jaarliks oorhandig is vir netheid. Hulle het ook baie moeite gedoen om hul stasies se tuine te verfraai.
Bredasdorp se stasie het in die vyftigerjare vir twee agtereenvolgende jare die trofee as die netjieste stasie in die Wes-Kaap gewen. Potgieter berig in ’n artikel wat hy aan die Cape Times gestuur het oor die teleurstelling van Bredasdorp se stasiemeester, ene Mnr D. V. Heibner, toe die dorp die toekenning die daaropvolgende jaar net-net misgeloop het
Die wenners daardie jaar was toe die stasie op Swellendam.
Hoewel Klipdale se ou stasiegebou nog staan, is Napier se stasiegebou reeds lankal afgebreek. Op Bredasdorp, die hoofsentrum, staan die verwaarloosde naamborde nog op die vervalle perron. Die stasiegebou is egter onherroeplik aan die verval. Die skoorsteen in die bouval staan soos ’n stil Don Quixote en uitkyk oor die stasie wat so ’n ingrypende bydrae tot die dorp se ekonomiese en sosiale vooruitgang gemaak het in die vorige eeu.
Ora Laubscher