Mediese dienste op Elim van 1863 - 2021
Elim is in die vroeë 19de eeu as 'n sendingstasie van die Morawiese Broederkerk gevestig nadat die genootskap die plaas Struisvogelkraal vir hierdie doel in 1825 aangekoop het. Een van die Duitse sendelinge, ene dr J. Lehman, was volgens inligting vervat in 'n verhandeling oor die geskiedenis van die sendingstasie, 'n homeopaat. Dr Lehman het volgens inligting vervat in hierdie verhandeling sedert 1863 in hierdie hoedanigheid gepraktiseer totdat hy in 1881 weer na Duitsland teruggekeer het. Dokters wat op die Morawiese sendingstasie by Genadendal gestasioneer was, het klaarblyklik ook later met gereelde tussenposes na Elim gereis om 'n mediese diens te lewer.
In die 1950's bekom die komitee van die Elim Verplegingsdiens die dienste van 'n distriksuster wat 'n mediese diens aan die gemeenskap lewer totdat die Bredasdorpse Distriksraad in Maart 1974 die diens oorneem. Van 1 Maart 1974 af het 'n Distriksuster en 'n Distriksgeneesheer van Napier, wat twee maal per week die sendingstasie besoek het, 'n mediese diens aan die gemeenskap gelewer. Hierdie diens is later oorgeneem deur die Wes-Kaapse Departement van Gesondheid.
Van gedeelde kliniek ruimte tot volwaardige kliniek kompleks
Die eerste “kliniekgebou” op Elim was die “kliniek” wat deel uitgemaak het van die gebou wat ook as poskantoor diens gedoen het. 'n Aparte geboutjie wat as kliniek gebruik is, is later langs hierdie gebou opgerig. Dit is hierdie gebou wat uiteindelik plek gemaak het vir die nuwe kliniekgebou wat op 21 Oktober amptelik geopen is deur die Minister van Gesondheid van die Wes-Kaapse Departement van Gesondheid.
Nuwe era ingelui vir Elim se sendingstasie van weleer
Verskeie plaaslike rolspelers het toegekyk toe die Wes-Kaapse Minister van Gesondheid, dr Nomafrench Mbombo, na afloop van die formaliteite die blou lint voor die deur, wat toegang verleen tot die nuwe kliniekgebou, knip. Onder hulle was Suster Naomi October, Operasionele bestuurder van die Elim kliniek , Me Gwendoline van der Westhuizen. Primêre Gesondheidsorg Bestuurder van Swellendam en Kaap Agulhas, Me Wilhelmina Kamfer, Mediese dienste Overberg Distrik, dr Jaques du Toit, Mediese bestuurder, Kaap Agulhas en Swellendam subdistrikte, Eerwaarde Gert Temmers van die Elim Morawiese Broederkerk, KAM Uitvoerende Onder-burgemeester Zukiswa Tonisi en Evelyn Sauls, Wyksraadslid.