Jemaine Julies: Musiekvideo in Bredasdorp Geskiet
Stanford-sanger se debuut - geskiet op Bredasdorp - die 'Moeite' werd
Jemaine Julies het op 19 Februarie teruggekeer na die dorp waar “alles begin het” om die musiekvideo vir sy debuutenkelsnit, Moeite, in Bredasdorp te kom skiet.
Julies – ’n boorling van Stanford – het deur sy Facebook-blad aanhangers uitgenooi om die stel te besoek en deel te wees van die verfilming. Tonele uit die video is by verskillende liggings op die dorp geskiet, insluitend by De Heide Primêre Skool.
“Dis waar my journey begin het,” vertel hy. “Dis ’n baie persoonlike ding, na aan my hart.” Julies het in 2018 vir die eerste keer by dié skool opgetree, en het verlede jaar op Jeugdag sy eerste solo-optrede daar gehad.
Aanvanklik was Julies – wat sy styl as “R&B Afrikaanse soul” beskryf – eintlik ’n danser. “Die sang het ontwikkel toe ek op hoërskool was,” vertel hy, “en toe kry ek ’n styl wat my uniek maak in die Afrikaanse bedryf.”
Op 8 Oktober 2021 het hy begin om voltyds op sy musiekloopbaan te fokus. Sedertdien het hy verskeie optredes gedoen en ook al speeltyd op nasionale en gemeenskapsradio gekry.
Sy eerste musiekvideo is maar een van vele planne vir die toekoms: Julies vertrek vandeesweek Turkye toe om daar te gaan optree. Daarna wil hy ook die VSA besoek om die wortels van R&B te verken.
“Ek gaan loer ’n bietjie wat die buitelandse mense doen,” sê hy. “Jy gaan kyk wat klaar daar is, en dan kom jy terug.”
Moeite se musiekvideo sal binnekort op Julies se sosiale mediablaaie gedeel word. Die snit verskyn ook op sy debuutalbum, Reik na die Sterre, wat op 31 Maart vrygestel word.