
Bredasdorp Balletskool Presteer by Eisteddfod
Die Bredasdorp-gebaseerde Linda Booyse School of Dance het uitstekend gevaar by die onlangse Overberg Eisteddfod wat op Hermanus gehou is op 11 en 12 Maart.
Die skool het vier trofeë en ses medaljes gewen, en met 31 goue sertifikate en 11 cum laude benoemings weggestap by die streeks-eisteddfod.
Booyse se senior dansgroep het die trofee vir senior kontemporêre dans opgeraap met ’n dans rondom die tema Support (sien voorbladfoto). Die groep bestaan uit Nerine Bezuidenhout, Josie Dennis, Ciara Laubscher, Britney Leigh Oliver, Marischen Reynecke Liezel van der Mescht, Tanya van der Mescht en Nina van Zyl.
Dit is die sewentiende agtereenvolgende jaar wat die Linda Booyse Balletskool dié gesogte toekenning wen.
Die ander trofeewenners was Kirsten van Copenhagen (beste junior ballet-solo); San Mari Rossouw (beste senior ballet-solo); Nanicke Odendaal en Jay Lee Abraham (beste junior ballet-duet).
Die skool se dansers het ook ses medaljes gewen. Die wenners, vir ballet, was Mia Morris (beste balletsolo o/9); Jay Lee Abraham (beste bal let-solo o/12); San Mari Rossouw (beste ballet-solo o/15); Josie Dennis (beste ballet-solo o/16).
Twee van Booyse se danseresse het medaljes gewen vir choreografie. Sophia de Lange (sien voorbladfoto) het die prys vir beste choreografie vir graad 8 en 9 gewen, en Britney Leigh Oliver het weggestap met die prys vir beste choreografie vir graad 11 en 12.
“Ons moedig die kinders aan om uitdrukking te gee aan hul eie idees. Baie van die kinders, veral die seniors, kies ook hul eie musiek wat ek dan choreografeer,” het Booyse aan Suidernuus vertel.
Booyse het haar dansskool in 2000 in Bredasdorp gevestig.