Skeepswrakmuseum Vier Menseregtedag Met Rits Plaaslike Talent
Die Skeepswrakmuseum het Maandag Menseregtedag in die tuin van die museum gevier met musikante, dansers en rymkletskunstenaars vanuit eie bodem om gaste te vermaak.
Selfs museumbestuurder Odette Weir het op ’n kol kom saamdans onder instruksie van die Realiist Angels se Mickayla Oosthuizen. Die Realiist Angels is ’n groep skoolkinders wat onder leiding van ’n span instrukteurs lekker loslit lyf rondgegooi het op die maat van opgewekte musiek.
Mirambaspelers het tradisionele Afrika-musiek verskaf en Phillip Swanepoel, ’n plaaslike sanger en liedjiemaker, het die blues gesing met gepaste lirieke vir die dag, terwyl ’n handvol rymkletsers (rap kunstenaars) - die Great Orator, Jakklong Booysen, Lil Ace en Nakaweli - ook hul ding gewys het. Nakaweli, het iemand wat vertel, kan in vier tale rymklets - Afrikaans Engels, isiXhosa en isiZulu.
Vanwaar ek in die agtertuin neffens die uitstalling skeepswrakankers gesit het, het dit gelyk of selfs die horing-ou wurgvy saam ‘boogie’.
Margel Foods het hamburgers, worsbroodjies en koeldranke verkoop in die agtertuin. Dié familiebesigheid, onder bestuur van Elton en Liam Marthinus en ondersteun deur suster Teneal en skoonsuster Beverley, het ingestaan vir ’n pop-up restaurant wat op die laaste nippertjie nie kon ‘pop’ nie.
Die talentvolle Wendy Kweyama was die seremoniemeesteres. Die dag se verrigtinge het om 10:00 afgeskop en toe Suidernuus teen 12:30 daar weg is, was die feesgangers in die middedorp van Bredasdorp steeds aan die vier. ’n Heerlike dag van samesyn om ’n belangrike tema vir Suid Afrikaners.