Laat nie sommer los nie
As ek so rond luister na ouers kom ek agter party kinders is meer “high maintenance” as ander. Hulle soek meer aandag, meer dinge, gee soms meer probleme en vat nie nee vir ‘n antwoord nie. Ek dink Jakob was een van God se “high maintenance” kinders. Niks het hom verhinder om seëninge na te jaag nie: Hy sal sy honger broer omkoop, sy ou blinde pa kul, in die woestyn waar hy vlug vir sy lewe sal hy by God seëninge eis toe hy agterkom God gaan hom nie straf nie (Gen 28) en in Genesis 32 worstel hy heelnag met ‘n man (wat hy later as die Here erken) omdat hy weier om te los voordat hy geseën word. Die worsteling is intiem, soos die van stoeiers wat aanmekaar hang. Die einde is dat hy mank is en ‘n nuwe naam kry. Jakob het God ontmoet in sy lewe as vriend en vyand maar hom altyd voluit in die lewe in gewerp op soek na meer. Ook hierdie “high maintenance” kind van die verbond is God s’n sy hele lewe lank.











