Beweeg of nie
Ek het al geskryf oor die lys van goed wat groei in ons lewe verhinder. Ek benader die lys met 'n stuk humor. Humor gebore uit erkenning en miskien as mens vir jouself lag is jy ook bereid om te verander. Ons lag mos in liefde in ons klein veilige ruimtes saam met die wat ons liefhet vir daardie ‘tipiesheid” in die ander.
Een van dinge word beskryf as “entrenched”. Ek dink daaraan as iets soos: “hier sit ek nou, en ek move nie”. ‘n Trench is tog ‘n loopgraaf. Hier maak ek my ammunisie en oortuigings bymekaar en ek vuur dit op enigiemand wat naby is. Ek weet wat ek weet. Dink nie daar is baie humor in ‘n loopgraaf nie.
Ons almal is seker maar vas in minder of meerdere mate. Ek weet net nie hoe ver mens sien as jy teen jou loopgraafmure vaskyk nie. Miskien mis jy ‘n verassende ander wêreld . . .











