Lydenstyd Gaan Oor Liefde
It all boils down to love.
Lydenstyd gaan oor liefde, soos elke ander seisoen van die kerkjaar. In die geskrifte van baie Middeleeuse vroue mistici vind ons ‘n spel met die Germaanse konsep “Minne”. In daardie tyd was Europa vol troebadoers wat rondgegaan het op die hoofpaaie en minneliedere gesing het aan die reisigers. Liedere oor die liefde en die verlange na die meisie of die man. Hierdie taal van minne is oorgeneem deur vroue in die kloosters. Skielik beteken Minne baie dinge: Met ‘n hoofletter is Minne Christus, Jesus die Geliefde of Liefde self, minne in kleinletter word die werkwoord van liefhe en bemind wees - werkwoord, objek en subjek. Die spel van Minne besing die gegewe sowel as die verlange na God. Luister vir Hadewijch van Antwerpen uit die dertiende eeu:
“ik acht het beter niets te zeggen,
dan het aan vreemden uit te leggen.
Moge Minne gedogen dat gij ondervindt
hoe men met minne, in Minne, mint”
Haar enigste wens is dat ons met liefde in Liefde, liefhê. In Lydenstyd openbaar Liefde Liefdeself in die lewe van Jesus. Soms moet ons maar net sekere dinge vir ‘n tyd op sy sit om dit te ontdek (van jou gunstelingkos tot jou gunsteling program). Lydenstyd is op-sy-sit-tyd.