21 Dae 21 Psalms: Dag 8
1. Vers 1 het die volgende vertalings: “Tot U Here rig ek my op” “Na U Here hunker ek”; “Tot U Here hef ek my siel op”, “To you O Lord I lift up my soul”. Hierdie woorde laat my altyd dink aan ‘n kind wat op sy/haar tone staan, hande in die lug uitgestrek om opgetel te word. Word stil en staan vanoggend op jou tone met jou hand opgestrek na bo met die woorde: Na U Here rig ek my hele menswees.
2. Kyk rond daar waar jy nou is. Kyk of jy vyf kleure kan raaksien wat eweskielik vir jou uitstaan. Bewonder dit en dank God vir daardie kleure.
3. Lees Psalm 25 meer as een keer stadig deur. Let op watter woorde of frases wat vir jou uitstaan. Skryf hulle neer.
4. Die Psalm is ‘n akrostiese Psalm. Dit beteken in Hebreeus begin elke vers met die opeenvolgende letter van die Hebreeuse alfabet. Daar is 22 letters in die alfabet. As jy in die Ou Vertaling kyk sal jy woorde soos: alef, bet, gimel, dalet ens. voor elke versreël kry. Wat van ‘n kreatiewe uitdaging! Skryf jou eie Psalm/gedig waar jy elke reël begin met opeenvolgende letter van die alfabet: a, b, c ens. Kyk hoe ver jy kom. Kies ‘n tema. Psalm 25 byvoorbeeld fokus baie op: pad, weg, leer ens.
5. Met die hulp van vers 1-10 kan mens ‘n maklike daaglikse gebed formuleer:
A Hier is ek Here
B Moet my asb nie “drop”, vergeet nie
C Dankie dat U elke dag met my nuut begin
D Wys my asb die pad wat ek moet loop
6. Bid vers 21 voor jy gaan slaap vanaand.
[Direkte Vertaling:
Vers 9-10b. Mag Hy verdruktes lei in wat reg is;
Mag Hy hulle sy pad leer.
Al die paaie van die Here is paaie van troue liefde en waarheid
Vers 17: Die benoudheid van my hart is oorweldigend
Lei my uit my kwellinge.