NG GEMEENTE GANSBAAI IS BETROKKE BY VOEDSELVERSKAFFING TYDENS DIE COVID-19-PANDEMIE IN DIE GROTER GANSBAAIGEBIED
Sedert die aanbreek van die grendeltyd in Maart 2020 het ons gemeente omvangryk hulp verleen om voedsel in die Gansbaaistreke te verskaf en te versprei. Die plaaslike regering het ‘n Rampbestuur onder die leiding van Kat Myburgh saamgestel om onmiddellike voedselnood aan te spreek. Raadslede, amptenare en gemeenskapsleiers is ingespan om hierdie groot voedselprojek te bestuur. Die Rampbestuur bestaan uit koördineerders vir die onderskeie streke waarvan Francia van Dyk die koördineerder is vir Gansbaaidorp, De Kelders, Perlemoenbaai, Kleinbaai, Franskraal, Uilenkransmond.
Ons groter gemeenskap is versoek om betrokke te raak by skenkings en hulp aan die Rampbestuur en –fonds. Ons is oneindig dankbaar vir die deurlopende skenkings, aanmoediging, voorbidding en leierskap in hierdie verband. Omvangryke hulp kom van ons mense in die groter Gansbaai: sakelui, boere, kerke, inwoners, gemeenskapsinstellings en diensorganisasies . Ons kan nie anders as om die omvangryke betrokkenheid van ons gemeentelede te vermeld nie. Kerkraadslede, wykslede en amptenare is deel van die omvattende voedselverskaffing, -voorbereiding, -verspreiding en diens by die onderskeie sopkombuise en aan talle individue en gesinne.
Veral tydens fase 5 en 4 van die grendeltyd is voedsel en kospakkies aan sowat 5000 inwoners verskaf; die sopkombuise het daagliks voorbereide voedsel verskaf. Die Rampbestuur het miljoene rand vanuit eie plaaslike begroting beskikbaar gestel om die voedselprojek te laat slaag. Vanaf fase 3 is die voedselprogram aangepas om net mense wat geen inkomste verdien nie, by te staan.
Ons het besondere waardering vir die knap wyse waarop Kat Myburgh, Riana de Coning en hulle span, saam met ons inwoners, hierdie ramp in ons gemeenskappe bestuur. Namens ons gemeente bedank ons elkeen wat op een of ander wyse betrokke was en steeds is om ons gemeenskappe by te staan in seker een van die grootste en mees omvattende rampe van ons tyd. Dankie gemeente, vir elkeen van u wat Christus se liefde op talle praktiese wyses tydens hierdie ramp betoon het en steeds doen. Mag die Here u ryklik seën.