Ses van Overstrand se brandweermanne en wetstoepassers gaan voortaan met groter vertroue ʼn boot kan hanteer, danksy ʼn gulhartige bydrae deur Walkerbaai se skibootklub.
Reginal Smith, Angelo Aplon, Nigel van Wyk, Ulrich Titus en Tohien Bazier - het onlangs, ná intensiewe opleiding en praktiese oefeninge, ook hul teoretiese eksamen ter verwerwing van ‘n skipperslisensie, geakkrediteer deur die Suid-Afrikaanse Maritieme Veiligheidsowerheid (SAMSA), suksesvol afgelê.
Gesoute skipper en lid van die skibootklub, Tjaart Olivier, het die manne touwys gemaak en voorsien dat hulle nou gerat is om onwettige visseraktiwiteite langs Overstrand se vele strandmere hok te slaan sowel as om, tot ʼn mate, hulp aan ander instansies te verleen wanneer die geleentheid hom ook al voordoen.
“Aangesien dit ons missie is om volhoubare en veilige boothengel te bevorder, maak dit sin dat die skibootklub tyd en geld belê in die beveiliging van Overstrand se viswaters.
Dit was vir ons ʼn eer en ʼn plesier om saam met hierdie manne te werk, en ons wens hulle alles van die beste toe met die uitvoering van hulle belangrike beveiliging- en wetstoepassingstaak,” het blootklubvoorsitter, Walter Mapham, ten tye van die oorhandiging van die manne se sertifikate gesê.













