Die manspersoneel van Gansbaai Academia se hare het letterlik Maandag, 17 Oktober 2016 “gewaai” - gelukkig nie as gevolg van ‘n bakleiery nie, maar uit meegevoel en empatie met ’n landwye veldtog ten bate van ons land se vele kankerpasiënte.
“Ons wil graag wys dat ons nie in afsondering op ‘n eiland woon nie, maar dat ons graag ons ondersteuning, empatie en deernis teenoor kankerlyers wil beklemtoon,” het Tommy Wilson, Gansbaai Academia se skoolhoof, gesê. “Ons is ook bewus van kankergevalle onder ons eie personeel se familielede.”
Tong in die kies het hy gesê dat hy darem ‘n bietjie hare aan die kant van sy kop kon afskeer, aangesien hy eintlik ‘n “natural bold” is.
Die manspersoneel wat hul hare “laat waai” het, is Tommy Wilson (skoolhoof), Barry Fourie, Garren Verhoog, Graig Gillian, Jacobus Barnard, Mervin Hess (graadhoof, graad 10), Theuns van Schoor (sport-koördineerder) en Wilton Philips (graadhoof, graad 11).
Slegs drie manspersoneellede het dit, as gevolg van persoonlike redes, nie gedoen nie.
Barry Fourie het gesê dit is die eerste keer dat hy sy baard in vier en dertig jaar afgeskeer het!













