Die kinders van Elimhuis in Gansbaai was oorstelp van vreugde tydens ‘n welwillendheidsbesoek Donderdag, 13 Oktober 2016 deur die Wacky Whalers Kwiltgroep van Perlemoenbaai.
Veelkleurige ballonne is saam met genoeg koekies, lekkergoed en ander lekkernye uitgedeel.
Geselsies is met die kinders aangeknoop en daar is heerlik saam met hulle gesing en gespeel.
“Hierdie was net ‘n sosiale besoek aan die kinders om vreugde in hul lewens in te bring,” het Olga Swanepoel, sameroeper van die groep kwilters, gesê.
Een van die groep se doelwitte is om jaarliks een projek ten bate van liefdadigheid aan te pak. Vir hierdie projekte word ‘n spesiale kwilt gemaak en vir fondsinsameling uitgeloot.
Vanjaar se kwilt was ten bate van Gansbaai Elimhuis in Kerkstraat langs Gansbaai Superspar se agterkant uitgeloot. Dit het die pragtige bedrag van R4 500 opgelewer wat ‘n tydjie gelede al aan die huis oorhandig is.
Die Wacky Whalers Kwiltgroep is sowat elf jaar gelede gestig en bestaan tans uit sowat sestien lede.
“Behalwe vir die jaarlikse liefdadigheidsprojek, werk ons verder vir onsself en vir ons eie plesier,” sê Olga. Die groep sorg egter dat hulle standaarde hoog bly en woon gereeld kursusse by, terwyl hulle gereeld sorg vir opleiding aan beginners in kwiltwerk. Loer mens in die woordeboek dan is die vertaling van “wacky” iets soos “verspot”. Kyk mens na hierdie dames se handewerk waar dit by kwiltwerk kom, kon hulle naam eerder “Artful Whalers” gewees het.













