‘n 110 jaar tekening op die vloer by Laerskool Gansbaai is vir die skool se 110de verjaardag op Maandag, 24 Oktober 2016 netjies met note uitgepak.
“Hierdie gebaar val saam met ons 110 jaar se bestaan en as deel van ons feesvieringe het ons as personeel besluit om iets in die gemeenskap terug te ploeg,” vertel Marlene Koekemoer, onderwyseres by die skool.
Aangesien Calvin Olivier ‘n oudleerder van Laerskool Gansbaai is, het die personeel besluit om ‘n nootlegging ten bate van hom te reël.
Ten tye van sy ernstige motorongeluk vroeër vanjaar was hy ‘n Graad 11 leerder aan Hoërskool Bredasdorp.
Na die ongeluk gedurende die Paasnaweek, was hy vir drie maande in intensiewe sorg en daarna vir ‘n verdere vier maande in ‘n rehabilitasiesentrum.
Sedert verlede week is Calvin permanent as ‘n kwadrupleeg tuis.
Tydens sy besoek aan Laerskool Gansbaai verlede Vrydag, 21 Oktober het hy die kinders geïnspireer met sy positiewe gesindheid.
Met die nootlegging wat gereël is, is die pragtige bedrag van R4 120 ingesamel.
“Ons as skool is baie dankbaar vir elke kind en personeellid se bydrae en dit was ‘n besondere voorreg om hierdie mooi bedrag aan hom te kon oorhandig,” het Marlene gesê. “Ons beste wense vergesel Calvin en ons sal ook aan hom dink met sy skoueroperasie volgende maand.”















