Mathilda Roos van Groeneweide Kwekery het die terapeutiese waarde van tuinmaak, veral ook op klein skaal, aan die vrouens van die Bietoubos Damesklub van Perlemoenbaai en De Kelders tydens ‘n byeenkoms op 11 Oktober 2016 gedemonstreer.
Die groep vrouens was aangenaam verras oor wat alles in die lyn van tuinbou op klein skaal gedoen kan word, selfs ‘n mini-kruietuin in ‘n groterige bak - sommer naby aan die kombuis.
Sy het met geoefende hande gewys hoe die plantjies se wortels eers effens losgemaak word voordat dit geplant word.
‘n Verdere nuttige wenk is dat grond nie noodwendig gespit moet word nie, maar net wanneer nodig van bo af om plantvoedsel by te voeg.
Mathilda het ook ter illustrasie kruieplantjies saamgebring, soos pietersielie, basillekruid, marjolein, bonekruid, tiemie, roosmaryn, mint en pennyworth en die nodige gebruike daarvan verduidelik.
Ná die interessante en leersame demonstrasie is die Bietoubos-tradisie voortgesit deur gesellig by mooi versierde tafels saam te kuier en die verleidelike verversings te geniet. Die twee gasvrouens vir die byeenkoms was Leonie Botha en Mariana van der Merwe.
Nou wag nog net hulle afsluitingsfunksie op 8 November 2016 en navrae kan aan Elizma de Lange by 028-3841963 of 082-511-2743 gerig word.













