Die sowat vyftig vroue van die NG Vrouediens is behoorlik verras met die sangpaar, Johan en Riana Prins se optrede as gaskunstenaars tydens hul afsluitingsfunksie op Dinsdag, 25 Oktober 2016 in die Pretoriussaal.
Johan en Riana is altwee onafhanklike finansiële adviseurs van Bloubergstrand en bedryf hul eie besigheid. Wanneer dié twee egter die kans kry om sangoptredes, ingesluit pragtige humor, te lewer, word die werk eers bietjie agteruit geskuif.
Die Kleinbaaistreek van die Vrouediens was vanjaar vir die gesellige afsluitingsfunksie verantwoordelik en, ondanks hul uitgawebesparings, kon die vrouens langs pragversierde tafels met verversings hul plekke inneem.
Marianna Janse van Rensburg en haar regterhand, Dalena Wessels het as gasvrouens opgetree. Marianna is lank reeds ‘n vriend van Johan en Riana, maar ook as haar finansiële adviseurs en het die egpaar genooi om in Gansbaai te kom optree.














