Gansbaai Vroue Landbou Vereniging (VLV) het onlangs ‘n suksesvolle en bedrywige jaar afgesluit, met vele hoogtepunte op hul kerfstok.
Enkele hoogtepunte in 2016 is deur Gansbaai VLV se voorsitter, Rienie Lüdick, wat ook Overberg Sirkel se President is, uitgelig.
‘n Suksesvolle oggend by Overberg Sirkel Internasionaal op Klipdriftplaas, waar die vroue agt lande verteenwoordig het - geklee in tradisionele klere met eg-tradisionele etes wat voorberei is. Hélené Truter was die gasspreker tydens dié geleentheid.
Die vroue het ook die biblioteek ondersteun met die maak van kombersies vir die Mandela Kombersprojek. Verder het hulle ook mussies, truie en komberse aan verskeie organisasies geskenk, asook handdoeke aan Herberg-aan-See. Van die vroue het maaltye vir Gansbaai Elimhuis voorberei.
Gansbaai VLV het hul 63ste verjaarsdag met ‘n kinderpartytjie en ‘n “lepelaand” gedurende Augustus 2016 gevier, wat goed deur die gemeenskap ondersteun is.
Die vereniging se afsluiting van hul bedrywige jaar was in Novembermaand met ‘n interessante en gesellige “Afternoon/High Tee”.
Marianna van Rensburg het bykans al die trofeë tydens die prysoorhandiging ingepalm met onder andere die meeste inskrywings en punte.
“Ons is werklik trots op ons VLV-lede en bedank graag almal wat gedurende die jaar aan ons kompetisies deelgeneem het,” het Rienie gesê.
Die drie Kersgeskenkpakke is onderskeidelik deur Magaret Wessels (1ste), Liz-Marie Liebenberg (2de) en Ronelle Swart (3de) gewen.
Rienie wens graag alle lede en hul gesinne ‘n geseënde Christusfees en voorspoedige 2017 toe.















