‘Vrede op Aarde’ - Dit was die boodskap wat die NG-gemeente se Kategeseleerders tydens hul Jeug Kerssangdiens op Sondagaand, 13 November 2016 uitgestuur het.
Dr Lisel Joubert het die verrigtinge geopen, waarna Laerskool Okkie Smuts se Marimba Orkes ‘Stille Nag, Heilige Nag’ gespeel het.
“Met vanaand se Skriflesings fokus ons op die Lukas Evangelie - veral gesien in die lig dat hierdie evangelie op ‘randfigure’ fokus,” het sy gesê. “Met ‘randfigure’ verwys ek na onbelangrike mense met min waarde in die destydse gemeenskap, soos ‘n eenvoudige skrynwerker, skaapwagters, weduwees, kinders, vrouens en andere.”
Die res van die aand het goed georganiseerd en sonder afkondigings soos volg verloop: Skriflesings uit Lukas, toneeltjies wat opgevoer is, koorsang deur die onderskeie leerders, gemeentesang en gepaste CD’s wat gespeel is.
Alissa Coetzee, Gavin Middleton en Maya Joubert het ook om die beurt voorlesings behartig met die hoërskool kategesedogters wat die rol van engele vertolk het, hoërskoolleerders as skaapwagters en Elzanne van Lill as Moeder Maria. Die luisterryke dwarsfluitbegeleiding is deur Michaela Laubser verskaf, met Francois Groenewald as die knap klankman.
Die verrigtinge is gepas met die sing van ‘Stille Nag, Heilige Nag’ deur almal en onder begeleiding van Michaela met die dwarsfluit afgesluit.















