Rdl Riana de Coning het na hierdie gepaste aanhaling van Ronald Reagan, voormalige Amerikaanse President verwys tydens ‘n oorhandigingseremonie van bruikbare goedere op Saterdag, 29 Oktober 2016.
Die vroue van die Geluksoord Bejaardeklub in Elim het, onder leiding van Suzaan Alexander, ‘n insameling van bruikbare goedere ten bate van welsynsorganisasies in Gansbaai van stapel gestuur. Hulle het mnr Kat Myburgh, Areabestuurder van die Overstrandse Munisipaliteit se Gansbaai Administrasie, vir aanbevelings gekontak. Sy aanbeveling was die Birkenhead Animal Rescue Centre (BARC) en die Social Help Animal Rehabilitation & Restouration Education (SHARE).
Die groot hoeveelheid items is by BARC se hokke deur pastoor Frikkie Zeelie (SHARE) en Annalie Jonker (BARC) met opregte dankbaarheid in ontvangs geneem.
Die sowat twintig vroue van die rusoord het ‘n opwindende dag in Gansbaai beleef. Hulle was aangenaam verras met BARC se netjiese hokke en werk wat daar gedoen word. Hulle het ook die tweedehandse winkels van BARC en SHARE besoek voordat hulle na Elim teruggekeer het.














