‘n Massaoptog met meer as 800 motorfietse, almal met een doel voor oë: Liefdadigheid.
Dit was die onvergeetlike gesig van vanjaar se “Toy Run” wat laat in November vanjaar in Stanford geëindig het.
Meer as agthonderd motorfietsryers het uit alle windrigtings in die Overbergstreek, asook uit die Kaap aangekom.
Ryers van omliggende dorpe soos Gansbaai, Hermanus, Caledon en Bredasdorp het die res van die groep by Van Brakel Stoor ontmoet. Vandaar het hulle in hul honderde in ‘n massa saam na Stanford vertrek. Die klank, die samehorigheidsgevoel, die massa vrolike, sagte speelgoed en die getal ryers het toeskouers trane in hul oë laat kry.
By die bymekaarkomplek in Stanford is die speelgoed, wat aan die motorfietse vasgemaak was, op ‘n veteraan Ford-bakkie gelaai, vanwaar dit in die Overberg versprei is.
Liefdadigheidsorganisasies soos Stanford en Hermanus se Rotariërs, asook Bredasdorp en Gansbaai se Lions klubs was verantwoordelik vir die verspreiding van die speelgoed in hul onderskeie areas.
















