Die jaarlikse vissermans dankseggingsdienste wat gesamentlik deur alle denominasies in Gansbaai hawe aangebied word, speel ‘n groot rol in Gansbaai se vissersgemeenskap.
Tydens dié diens word dankie gesê vir ‘n goeie oesjaar op see, asook die veilige bewaring van die skepe en bemanningslede.
Onder begeleiding van die Gansbaai AGS-gemeente se orkes en koor het die lofliedere in Afrikaans en Engels elkeen teenwoordig, diep geraak.
Die begeleiers was Robert Johnson, pastoor Beryll Coetzer, Mariëtte Zeelie, Mike Schröder, Ben Smith en Adri Ehlers.
Na afloop van die musikale lofprysing, het pastoor Frikkie Zeelie van die AGS-gemeente en ds Deon Kloppers van die O.M.G.E.E. gemeente die toehoorders onderskeidelik in Afrikaans en Engels bedien.
Altwee leraars se boodskappe het die klem geplaas op God se voorsiening wat op die regte tyd plaasvind – ook almal se veiligheid op see, maar ook dat Hy te alle tye geken moet word.
Pastoor Zeelie sorg elke jaar na afloop van die hawediens dat die kinders bederf word met lekkernye. Vanjaar was dit Flippie Otto se beurt om die lekkernye uit te deel. Die opgewondenheid en breë glimlagte van die jongklomp dra altyd by tot die feestelike atmosfeer op die hawe.
Die jaarlikse Vissermans Verootmoedigingsdiens vir die nuwe visvangseisoen, sal Sondag, 15 Januarie 2017 om 19:00 in Gansbaai hawe aangebied word.














