Die Amazing Race was een van die genotvolle hoogtepunte van Hoërskool Overberg (Ovies) se Gr 8- oriënteringskamp wat Maandag 9 en Dinsdag 10 Januarie by die skoolkoshuise plaasgevind het.
Die groentjies het tussen baie pret en vrolikheid met hul nuwe skoolomgewing kennis gemaak.
Nog ‘n hoogtepunt, met skreeusnaakse gevolge, was die modeparade.
Modes sal nooit weer dieselfde wees na hul uiters kreatiewe ontwerpe wat van swartsakke, foelie en kleeflint aanmekaar geflans is nie.
Die kamp het afgeskop met ‘n Ken-Mekaar ysbrekersessie. Die 2017 matrieks het daarna voorgevat en skoolreëls en -tradisies met die groentjies bespreek.
Die nuwelinge het ook geleentheid ontvang om hul sporttalent ten toon te stel, by die kleure- en interskole atletiek byeenkomste.
Na ‘n goeie nagrus in Huis van den Berg- en Nerina-koshuis, het al die graad 8’s, onder leiding van mnr Botha, na die kruis gestap vir oggendgodsdiens.
Die kamp is op die rugbyveld afgesluit, waar die nuwelinge bewys het dat hulle die skoollied al goed onder die knie het.
Die leerderraad het egter nog ‘n laaste verrassing gehad: ‘n Waterballon- en ‘n meelgeveg – gepaardgaande met ‘n taai waatlemoensmeerdery!
Die 2017 graad 8-kamp was ‘n fees van sang, dans en pret, maar ook ‘n belangrike stap in enige graad 8 se skoolloopbaan waar die skool se kultuur en waardes vasgelê is.













