Gansbaai leerders het hulself verlede jaar verbind om daadwerklik oor te gaan en te bewys dat hulle omgee vir die bewaring van hul omgewing.
Deelnemers is onlangs beloon vir hulle entoesiastiese deelname aan Whale Coast Conservation se aktiewe Jeug Omgewingsprogram. Elkeen het ‘n sertifikaat ontvang wat as bewys dien van die skool en leerders se verbintenis tot die bewaring van hul omgewing.
Die skole wat by die opvoedkundige projek betrokke was, is Gansbaai Academia, Laerskool Gansbaai en Gansbaai Primêr in Blompark.
“Whale Coast Conservation is besonder trots op hierdie leerders, en hulle onderwysers, wat hard aan die projek gewerk het en uitstekend presteer het,” sê dr Anina Lee, Bestuurder: Kommunikasie en Openbare Betrekkinge.
“Ons opvoeders, Sheraine van Wyk en Shirley Mgoboza, het die drie skole onlangs besoek om die leerders en hul onderwysers van elke skool persoonlik geluk te wens en die sertifikate te oorhandig.”














