Chris en Petra van Rensburg van OK Foods Gansbaai het hulle harte oopgemaak vir die hulproep om ‘n naambord vir Strandlopertjie Bewaarskool.
Dié Blomparkse skooltjie met sy sowat 30 kleuters, is Donderdag, 9 Februarie 2017 in die kollig wanneer hulle verfilm word vir die TV-program, kykNET NOU! op Kleuterzone.
Die gemeenskap het behoorlik hulle harte en hande oopgemaak.
Anchelle Damon, programleier van Grootbos Foundation se vroeë kinderontwikkelingsprogram het by Strandlopertjie opgedaag met verf en bande en helpers en begin mooimaak.
Die tuinspan onder leiding van Pontsho Chiloane, was baie besig met verf en plant, toe Gansbaai Courant by die skooltjie opdaag.
Pontsho vertel dat hy opleiding gee in voedselsekuriteit as deel van Grootbos Foundation se gemeenskapsprojekte.
Die voorsitter van Strandlopertjie se beheerliggaam, Juan Lewis en die voormalige voorsitter, Ivan Cornelius het die voorste muur van die skool opgeknap met ‘n vrolike laag appelkooskleur verf.
Priscilla Cronjé, hoof van Strandlopertjie Bewaarskool, kan nie genoeg dankie sê vir die voorreg om so deur Gansbaai se gemeenskap bederf te word nie.















