Goeie deelname aan alle atletiekitems tydens die jaarlikse Driehoekige Atletiekbyeenkoms verlede Saterdag, 4 Februarie 2017 in Bredasdorp, was Gansbaai Academia (Sharkies) se “geheim” waarmee hulle die beker verower het.
Deelnemende hoërskole was Gansbaai Academia, Swartberg Sekondêre Skool (Caledon) en Albert Myburgh Sekondêre Skool (Bredasdorp).
Gansbaai Academia se skoolhoof, mnr Tommy Wilson, sê Gansbaai se atlete het pragtig in hul nuwe atletiekdrag gelyk en het ook uitstekende sportmanskap aan die dag gelê. “Dit het my bors des te meer van trots laat swel toe die beker aan my oorhandig word,” het hy gesê.
Izaan Newman en Ulrich Visagie het aan al die items deelgeneem en die gewigstootatlete het 5 rekords in die verskillende ouderdomsgroepe laat spat.
Gansbaai Academia het die dag met ‘n totale telling van 482 punte geëindig. Albert Myburgh was tweede met 447 punte en Swartberg derde met 229 punte.
“Ons is trots op ons atlete en wens hulle sterkte toe met die Suid-Boland en Boland atletiekbyeenkomste,” het mnr Wilson gesê.


















