Gansbaai Krieketklub se wedstryd wat Sondag, 12 Februarie 2017 teen Kleinmond gespeel is, kan aan hulle die geleentheid bied om in die Burgemeesterstrofee Finaal deel te neem - mits hulle Kleinmond kan klop.
Die Gansbaaiers het hulle onoorwonne 20/20 Sondagliga-status behou deur Napier Krieketklub Sondag, 5 Februarie 2017 op Gansbaai se tuisveld met 9 paaltjies te wen.
Gansbaai het Napier gevra om eerste te kolf.
Napier het reeds vanaf die eerste boulbeurt gesukkel om die boulwerk van Gansbaai se boulers baas te raak.
Die beste boulers was Jonathan Doyle (4-0-17-2), Dirk Swart (4-0-25-2) en Ralph-Vino Richter (2-0-9-2).
Gansbaai se goeie boulwerk is ook met goeie veldwerk beloon, met die gevolg dat Napier se kolwers gesukkel het om lopies aan te teken. Napier kon slegs 95/9 in hulle 20 boulbeurte aanteken.
Gansbaai het met gemak die lopies aangeteken, danksy ‘n skitterende kolfbeurt van 61 nie-uit-nie (5x4) en (3x6) lopies deur Melvin Tobias. Daarna teken Gansbaai 98/1 in 13 boulbeurte aan om die wedstryd met 9 paaltjies te wen.
Die krieketspan wil hiermee hul opregte waardering uitspreek teenoor hulle getroue ondersteuners langs die veld.
Nou wag die wedstryd teen Kleinmond wat sal bepaal wie in die Burgemeesterstrofee Finaal gaan speel.














