BARC (Birkenhead Animal Rescue Centre) se honde is nie met Valentynsdag vergeet nie.
‘n Groep vrywilligers en BARC-ondersteuners het die honde op 11 Februarie na Groeneweide Kwekery en Restaurant geneem vir hulle Valentynsuitstappie.
Die vrywilligers, alhoewel min, het die dag saam met die honde baie geniet.
“Ongelukkig was daar nie groot belangstelling in die uitstappie nie, wat ‘n groot jammerte is,” sê Annalie Jonker van BARC. “Ons beplan soortgelyke uitstappies met die honde, indien die weer dit toelaat, en vertrou dat die belangstelling daarin sal toeneem”.
Sy beskou Groeneweide as die ideale stapplek vir die honde, aangesien dit ‘n pragtige omgewing is, met meer as genoeg ruimte vir die diere. Vrywilligers wat belangstel, kan daar ontbyt eet, koffie geniet en dan is daar ook kleedkamers.
Intussen werk BARC se helpers baie hard aan die komende BARC-gholfdag op 18 Maart in Kleinbaai, wat as ‘n fondsinsamelingsprojek aangebied gaan word.
Hierdie geld sal vir gratis sterilisasie-dae later in die jaar gebruik word.
Vir meer besonderhede kan Annalie Jonker by 028-384-1740 geskakel word, of stuur ‘n e-pos aan haar by maynestay@axxess.co.za.
(Foto: Jeanette Toerien)













