Gansbaai Krieketklub het die afgelope Sondag twee uitgestelde wedstryde teen Kleinmond op Gansbaai Gemeenskaplike Sportgronde gespeel.
Die eerste wedstryd was ‘n Sondagliga 20/20 wedstryd. Gansbaai het eerste gekolf en danksy Driaan Kriel 24 (2x4)(1x6) en Jonathan Doyle 25 (2x4)(1x6) se lopies, kon Gansbaai op ‘n moeilike en stadige kolfblad daarin slaag om 87/10 almal uit aan te teken. Kleinmond se beste boulers was Ronnie (1-0-1-2), Christiaan (4-0-19-2) en Gerhardt (2-0-13-2).
Kleinmond het daarna gaan kolf en net Christiaan met sy 28 (1x4) lopies kon die goeie akkurate boulwerk van Gansbaai se boulers baas raak. Die goeie boulwerk van Jeandré Gerber (3-0-11-3), Christo Swart (4-0-12-1), Gurshwin Davids (4-0-13-1) en Dirk Swart (4-0-18-1) het versker dat Gansbaai die wedstryd op ‘n spannende wyse met 2 lopies gewen het. Gansbaai is dus steeds onoorwonne in die 20/20 Sondagliga na 4 wedstryde.
Die 2de wedstryd was vir die semi-finaal van die Mayoral Cup. Kleinmond het eerste gekolf en kon weer eens as gevolg van goeie boulwerk en uitstekende veldwerk deur Jeandré Gerber (2 uithardloopkanse), slegs 90/10 almal uit aanteken. Dit het weer eens op ‘n spannende einde afgestuur. Gansbaai kon ongelukkig nie daarin slaag om die wenlopies aan te teken nie en kon slegs 86/10 almal uit aanteken. Kleinmond wen die wedstryd met 4 lopies.
Eerskomende Sondag speel Gansbaai teen Stanford in nog ‘n 20/20 Sondagliga wedstryd en die Gansbaaiers vra ondersteuning langs die veld.
Heinrich Vermeulen












