Dit was ‘n gesellige afskeid vir vriende in Gansbaai, maar terselfdertyd ‘n hartseer geleentheid vir Hans (85) en Elise Crous (81) van Perlemoenbaai wat Gansbaai na sowat 17 jaar verlaat.
Die geselligheid is Saterdag, 25 Maart 2017 by die egpaar se huis aangebied.
“As gevolg van my swak gesondheidstoestand kon ek nie rondry om almal te groet nie en is daar besluit op ‘n geselligheid hier in ons eie huis,” het Elize gesê, wat tans ernstige gesondheidsprobleme ondervind.
Die groot groep vriende het heerlik gekuier, met meer as genoeg lekkernye waarmee hulle bederf is - al is daar hier en daar ‘n traantjie weggepik.
Die egpaar was oor al die jare heen aktief en was met oorgawe in die gemeenskap betrokke.
“Ek is lief om vir die ou mense te sorg,” was Elize se bekende woorde nog altyd, terwyl sy self reeds op ‘n hoë ouderdom is.
Sy was ook ‘n aktiewe NGK koorlid. Hans was net so aktief en het op 80+ nog gereeld fiets gery en huise geverf.
Die egpaar verhuis Saterdag. 1 April na ‘n tehuis vir bejaardes in Parow - Huis Uitzig, waar hulle versorg kan word en ook nader aan hulle kinders kan wees.













