As jy van ougoed hou, sal die uitstalling deur John McGregor wat tans by die Gansbaai Toerisme kantoor aangebied word, beslis ‘n indruk maak op jou. John is ‘n passievolle versamelaar van baie skaars en vreemde antieke items. Die blikkarretjie en motorfiets op die foto, dateer uit die dertiger jare en is maar een van die besondere speelgoeditems wat te sien is. Daar is ook ‘n motorfiets uit die laat 20’s, ‘n houtboot uit die 50’s en ‘n ‘Hornby’-trein uit die veertigerjare.
Die oudste item is ‘n lampie wat dateer uit 200nC. ‘n Argeoloog-vriend van John het dit in Israel opgegrawe. Ander interessanthede is glasbottels – waarvan een ‘Case Gin’ van 1860 en ‘n bottel van ‘n glasfabriek in Boksburg wat dateer uit ongeveer 1905.
‘n Hollandse pyp – een van die eerste pype wat in die 1630’s mode was, het ‘n vriend van John vir hom uit ‘n rivier in Holland uitge-delf.
Die ou gereedskapstukke en waterbottel uit die Tweede Wêreldoorlog, sal veral die manlike geslag beïndruk.













