Sy ryding was ‘n fiets. Sy besigheid se vragvervoermiddel ‘n fietsdrarak. Sy kantoor was ‘n kamer in sy ma se huis. Die begin van sy besigheid was aflegging by die firma waar hy gewerk het tydens die 2009 resessie.
Vandag is Francé Saayman die suksesvolle sakeman agter die firma Sonic WIFI in die Wes-Kaap.
Sakekamerlede wat verlede week die plaaslike sakekamer jaarvergadering bygewoon het, het vol geesdrif en planne weggestap nadat hierdie suksesvolle sakeman sy praatjie afgesluit het.
ABSA Besigheidsdienste het hom genader om die groep toe te spreek, weens die sukses wat hy reeds bereik het.
Francé se raad aan sakemanne is om hul vrese aan te spreek en ‘n ondersteunende span werksmense aan te stel. “Werk áán jou besigheid en nie ín jou besigheid nie”, het hy gesê.
“Fake it,’till you make it... en bid.”
Nuwe bestuur
Julia Barlow is onbestrede herkies as die voorsitter met Hein van Wyk as vise-voorsitter, Mynhardt Geyer (tesourier), Doulene Els (sekretaresse) en Diana Nortman (addisionele lid).
Sakemense wat belangstel om by die organisasie aan te sluit, kan meer inligting verkry deur ‘n epos te stuur aan:
info@gansbaaibusinesschamber.co.za














