Dit was ‘n besonderse aand toe die langverwagte Joburg Ballet in Onrus opgetree het.
Nie alleen was dit ballet uit die boonste rakke nie, maar het die Overstrand se geliefde voormalige burgemeester, Nicolette Botha-Guthrie ook haar verjaardag gevier. Sy het ook as gasvrou opgetree.
Vir Hardus en Anita Botha van De Kelders was dit besonders omdat hulle hul kleinkind, Alice le Roux vir die eerste keer sien optree het.
Die uitvoering ten bate van SANTA Hermanus, het aan alle verwagtinge voldoen en dansers het gereeld staande applous ontvang.
Die vier hoofballetstukke, waarvan losstaande gedeeltes opgevoer is, is uit bekende balletopvoerings geneem soos Cinderella, Swan Lake, Meditation, Surrender en Talisman, met verskeie van die losstaande items wat uit La Traviata - The Ballet kom.
Die artistiese direkteur, Ian MacDonald het sy tevredenheid oor die aand uitgespreek.
Hy het ook gemeld dat dit hulle eerste besoek aan die Overstrand is. “Ons was verheug om by te dra tot SANTA Hermanus se fondse,” het hy gesê.
Die fondse word aangewend vir die behandeling van pasiënte wat in die kloue van tuberkulose (TB) vasgevang is.
Cheryl van Niekerk wat self op haar tyd ‘n ballerina by Joburg Ballet was, het ‘n integrale rol gespeel in die beplanning en organisering van die drie opvoerings en die koms van die balletgroep na die Overstrand.














