‘n Vee- en graanprodusent uit die Overberg is die Wes-Kaap se nuwe Jongboer van die Jaar.
Johann Nel van Hoëkraal Landgoed naby Swellendam is Woensdagaand, 24 Mei 2017 tydens ‘n glansgeleentheid in Durbanville as die Agri Wes-Kaap Santam Landbou Jongboer van die Jaar 2017 aangewys.
Johann boer al vir agt jaar op Hoëkraal Landgoed met Jersey-koeie, Dohne Merino’s, boerbokke, kuilvoermielies, hawer, saadkoring, gars en ontbythawer.
“In my oë is vandag se jongboere innoverend, passievol, doelgerig en probeer hulle deurentyd verbeter en vernuwe op die ongelooflike fondament en voorbeeld van boerderypraktyke wat die vorige generasies en leermeesters gelê het,” het Johann gesê.
“Die jongboer speel ‘n baie groot en waardevolle rol in ons land se voedselketting om genoegsame, goeie kwaliteit voedsel in die voortdurende aanvraag daarvan te produseer, in ‘n konstante veranderlike omgewing met beperkte hulpbronne.”
Hy het ook gesê sy bestuurspan en arbeidsmag is sy belangrikste bate, met sommige werkers wat hul lewe lank op die plaas is.
Johann beskou dit as ‘n voorreg om elke dag so nou en in afhanklikheid met God se skepping te kan werk. “Boerdery is vir my die mees gesonde, dienende en nederige werk om te verrig. Buiten die genoegdoening en bevrediging wat ek uit boerdery haal, is dit wonderlik om te kan weet ek verskaf werk aan broodwinners en help dat hulle ‘n goeie huis en kos op die tafel aan hulle familielede kan voorsit.”
Die uitvoerende hoof van Agri Wes-Kaap, Carl Opperman, het Johann met die prestasie geluk gewens. “Elke jaar wys die kompetisie vir ons die jongmanne kom plaas toe met nuwe ywer, hulle gryp tegnologie aan, maak ‘n verskil en sien ‘n toekoms,” het hy gesê.
Gedurende Oktober vanjaar sal Johann aan die Nasionale Agri SA Toyota SA Jongboer van die Jaar kompetisie deelneem, waar hy teen die wenners van die ander provinsies te staan sal kom.













