Daar word gesê: vra is vry en weier daarby.
Dit was dus vir Madelein Fourie en Alanda Brown van Badisa ‘n uitdaging om Laerskool Gansbaai se hoof te nader om te help met die voedselnood wat dié organisasie gedurende winter-maande ondervind.
Die skoolhoof, mnr Eben van der Merwe het hulle egter met ope arms ontvang en 2 weke lank is ‘n insamelingsprojek van stapel gestuur vir die insameling van nie-bederfbare kruideniersware.
Die bydraes van ouers en hul kinders was geil en dit is duidelik dat hierdie gemeenskap vir sy medemense omgee.
Kort voor lank was daar 7 groot kartondose vol nie-bederfbare produkte.
Madelein en Alanda was oorstelp met die ‘bakkie vrag’ voedsel vir hulle noodkamer - net betyds vir die koue winterseisoen.
BADISA
Badisa is ‘n Tswana woord wat "caregiver" beteken. Dit staan vir BA (barmhartigheid), DI (diens) en SA (saam).
In kort is Badisa 'n kerk-gebaseerde maatskaplikediens organisasie wat dienste in die Wes-, Noord- en Oos-Kaap lewer.
Hulle fokus op die versorging, ontwikkeling en behandeling van mense in armoede en in nood, ongeag ras, geslag, kleur of geloof.
Visie en waardes
Badisa se visie is eenvoudig, maar dit tref diep:
"Christelike Barmhartigheid - ons is 'n naaste van elkeen in nood!".
Die volgende waardes word deur Badisa gehandhaaf:
"Diensbaarheid, Geregtigheid, Uitnemendheid en Rentmeesterskap!".
Ondersteuning
Vir die ondersteuning van projekte of enige navrae kontak gerus Badisa in Gansbaai.













