Drome mag maar gedroom word, anders sou daar geen nuwe uitvindsels gewees het nie.
Lede van Gansbaai Fotografieklub se opdrag was eenvoudig: Neem ‘n “before” foto en maak daarvan ‘n interessante “after” foto. Die opdrag is letterlik uitgevoer, wat heelwat interessante, maar ook komiese “after” foto’s, tot gevolg gehad het.
Die foto’s is Maandagaand, 19 Junie 2017 tydens Gansbaai Fotografieklub se byeenkoms by Groeneweide Kwekery en Restaurant, beoordeel.
Dit was verbasend, maar ook insiggewend, om te sien hoe fotograwe dieselfde idee en metodes gebruik, maar dan met wyd uiteenlopende resultate vorendag kom, die een so interessant soos die ander een.
Piet Visagie se ‘Private Island’, wat hy verbeeldingryk in Franskraal vir homself geskep het, is deur die beoordelaars met ‘n goue toekening beloon en word as voorbeeld gebruik.
(Die meerderheid van die klub se fotograwe is met goud beloon). Piet se oorspronklike (“before”) foto bestaan slegs uit ‘n naamlose rotsbank wat by Franskraal bokant die see uitsteek.
Hy het besluit dit is nie sy idee van ‘n eiland nie en het nog twee foto’s gaan neem: Strandveld Museum en digte wolke in die lug. Met die regte sagteware en allerlei fotografiese truuks, is die drie foto’s ietwat aangepas en aanmekaar gevoeg.
Die resultate? Dieselfde rotsbank wat by Franskraal maar vaal in die see gelyk het, het Piet gebruik om sy eie “Private Island”, soos hy die foto gedoop het, in Franskraal te skep, met wolke in die lug en Strandveld Museum in die agtergrond. Verbeeldingryk!
Gansbaai Fotografieklub was die afgelope tyd op twee gesellige, leersame en insiggewende uitstappies. Een na Greyton (6 Mei) en onlangs na Wortelgat by Stanford (9, 10 en 11 Junie).














