Net twee galjoene (galjoentjies!) was die totale vangste vir die dag, maar die breë glimlagte was daar, al was dit ietwat aan die verleë kant!
Die hengelaars van Overberg Kushengelklub het Saterdag, 17 Junie 2017 ‘n sonskyndag, maar ‘n omgekrapte en bitter koue see beleef - sonder hengel welslae.
Louis Otto het as wenner met sy 840g galjoentjie “getriomfeer”, terwyl die hengellegende, Oubaas Lesch, met die tweede plek tevrede moes wees - ook ‘n galjoentjie - 820g.
Elba Tredoux van die klub het laat weet dat, nieteenstaande die “effense” oes uit die see, het ‘n goeie gees onder die manne en vroue in ‘n stampvol klubhuis geheers.
“Rugby is toe maar langs ‘n gesellige braaivleisvuur gekyk, met groot dank aan ons borge vir die dag,” het Elba gesê.
Die klub het sowat ‘n week gelede in ‘n stampvol klubhuis ‘n suksesvolle hamburgeraand vir fondsinsameling aangebied.
Die musiek is deur die Rummy Cub orkes gemaak, met voete wat behoorlik gejeuk het om die dansvloer te betree.














