Die solarstelsel, die man, die leer, die dak en die afstandbeheer...
Dit klink na ‘n vreemde kombinasie. Johan Stemmet van TV2 se program, Noot vir Noot, sou gevra het: “Watter woord pas nie hier nie?”
In Christie en Desireè van Zyl se geval pas alles egter soos ‘n handskoen - behalwe vir ‘n omgekrapte en moeilike man agterna!
Desireè het vroegoggend oudergewoonte gereed gemaak om werk toe te ry.
Haar man, Christie, was op die woning se dak besig om aan die solarstelsel te werk toe sy vrolik vir hom wuif en groet, in haar motor klim en werk toe ry.
By die werk aangekom, het sy oopgesluit en haarself rustig vir die dag gereed gekry.
Hierdie “rustigheid” was van korte duur toe haar foon later lui met Christie aan die anderkant: “Wat makeer jou dat jy my uit die huis en uit alles uitsluit?!”
Net daar val dit haar by dat sy ingedagte die huis, die elektroniese motorhuisdeur en die elektroniese hek gesluit het - dìt nadat sy nogal vir hom gewaai en hom gegroet het voordat sy gery het.
Gelukkig vir Christie het hy ‘n leer op die dak gehad en ‘n tweede leer op die grond. Hy moes toe die een leer teen die elektroniese hek staanmaak en met die ander leer op sy skouer opklim sodat hy aan die anderkant weer kon afklim.
Daarna moes hy sowat 3 lang straatblokke na sy broer, Koos van Zyl, stap om te skakel, aangesien sy selfoon in die huis toegesluit was.
Desireè moes inderhaas die winkel waar sy werk weer sluit en huis toe ry om vir Christie oop te sluit.
Desireè sê gelukkig is die vrede vinnig herstel en kon hulle saam lag oor die petalje, maar dit kon ook die omgekeerde van ‘n “warm vrou en koue kos” gewees het!












