Kom luister na Johan Prins, ‘n finansiële adviseur van Tygervallei wanneer hy Dinsdagmiddag by die VLV byeenkoms gesels oor dit wat almal se sakke raak: finansies.
Die VLV het ook ‘n plaaslike spreker genooi wat sy wenke sal deel en ook al die pyne waardeur ‘n entrepreneur gaan. Maryne Rossouw van Kleinbaai, sal ‘n voorlesing doen.
Die byeenkoms vind Dinsdagmiddag om 15:00 by die Pretoriussaal plaas.
Sameroepster is Mariana van Rensburg. Kom geniet die middag saam met haar en haar gasvrouens.
‘n Kunswerkswinkel deur Ronel de Villiers, waartydens die kuns van dekselversiering bemeester is, was kreatief en ontspannend tydens die VLV se vorige vergadering. Geverfde deksels rond ‘n potjie ingelegde produk mooi af en is ‘n pragtige geskenk.
Dekseltjies is geverf en prentjies uit servette geknip en “gepodge”.
Dieselfde middag het Michell Fourie van IZINKI, die dames geleer om houthangers te verf en te versier met blomme en ander dekoratiewe items.
Michelle Marais was die genooide gasspreker, tydens die Julie vergadering. Sy het vertel van haar studie-sentrum waar kinders met huiswerk gehelp word deur gesonde studiemetodes toe te pas. Kinders word gemotiveer en as individue elk met ‘n eie persoonlikheid en omstandigheid behandel. Vir Michelle is die sentrum ‘n persoonlike roeping, God se stem en haar liefde vir kinders. Haar missie is om ‘n veilige hawe vir kinders te skep en dit kry sy met energieke entoesiasme reg!












