Bouwerk om die Great White Junction op die hoek van Hoofweg en Kapokblomstraat te vergroot is in volle swang.
Die nuwe uitbreiding sluit gehalte huurders in soos PEP, Ackermans, Clicks en ‘n KFC Drive Thru.
Volgens mnr Roelou Slabbert van Stellenbosch, een van die ontwikkelaars by ZRG Real Estate, beoog hulle dat al die winkels teen die einde van hierdie jaar voltooi sal wees, betyds vir die gewilde Desember vakansieseisoen.
Dit is net KFC wat vroeg in 2018 eers voltooiing sal bereik.
Hy sê dat hy glo die nuwe winkels sal ‘n aanwins wees vir Gansbaai.
“Die toevoegings verbeter ook die verskeidenheid en kwaliteit van dienste en goedere by die gewilde Great White Junction.
Dit sal verseker dat die sentrum die voorkeur bestemming vir inkopies in Gansbaai en omgewing bly en skep ‘n omgewing waarbinne al die huurders in die sentrum floreer”, het mnr Slabbert tydens ‘n onderhoud gesê.
Na voltooiing in 2018 sal daar altesaam 29 winkels wees om by inkopies te doen.
‘n Vloerplan van die vergrote sentrum verskyn hiernaas.













