Helena Swart het onlangs ‘n navraag oor die moontlikheid van ‘n hondestapklub aan Gansbaai Courant gerig - haar navraag is opgevolg en sy het die ideale antwoord daarop ontvang:
Sheryll Steyn het reeds so ‘n klub gestig, die Animals@ Peace, en die ledetal het sommer vinnig na sowat 15 vrywilligers gegroei.
Die hoofdoelwit van die klub is om elke Vrydag so teen 11:00 by BARC (Birkenhead Animal Resque Centre) langs die munisipale werks-werf bymekaar te kom. BARC se honde word dan om die beurt vir ‘n rustige staptog aan leibande geneem. Dit is egter nie waar die groep se werk eindig nie.
“Ons fokus ook op die honde se gedragsoptrede deur hulle te leer om sosiaal met mense en ook ander honde te verkeer,” vertel Sheryll.
“Ons beplan ook om Animals@Peace uit te brei om privaat honde-eienaars, wat graag met hul eie honde wil saamstap, te akkommodeer."














