Gansbaai SAPD se Dapper Stappers het as goue medaljewenners geëindig in die Meestersafdeling tydens ‘n Vasbytstaptog in Ladismith.
Die staptog oor 2 dae, het aan die einde van Augustus plaasgevind.
Hulle het die eerste dag 40km gestap in ‘n tyd van 5:22:46 en die 2de dag 35km in ‘n tyd van 05:01:15. Hulle het stof geskop in die oë van ander spanne met baie jonger bloed as hulle s’n.
In Junie het 3 van die stappers – A/O Mostert, A/O Jacky Hildebrand en Delicia Louwrens die SAPD Westelike Provinsie in Limpopo verteenwoordig tydens die SA Kampioenskappe.
Mostert het aan die Meesters Mansafdeling saam met 5 ander stappers deelgeneem, terwyl Hildebrand en Louwrens in die veteraan-afdeling vir vroue (ook ‘n span van 6) deelgeneem het. Hildebrand en Louwrens is as kampioene gekroon.
Die Gansbaai-stappers verteenwoordig die WP in November vanjaar tydens die Peninsula Uithoustap, wat in Kaapstad plaasvind.












