Dis koud en dis winderig, maar in die Great White House het Durbanville Hill se geurige wynreeks bygedra tot die gesellige, warm atmosfeer – ‘n kenmerk van Gnsbaai Wynproeklub se byeenkomste.
Die afgelope wynproegeleentheid is gekomplimenteer deur sjef Chris Pead van dié Kleinbaaise restaurant se nou reeds bekende kookkuns.
Kobus Gerber, wynmaker van Durbanville Hills Wyne, is vergesel deur sy vrou, Talitha. Kobus is reeds 27 jaar in die wynbedryf.
“I am a winemaker who believes good wine is made with minimal human invention. I sincerely believe South Africa offers high quality wines to palates around the globe. My goal is to make an iconic South African white wine,” het Kobus sy doelwit gedeel.
Te oordeel aan die wit wyne wat geproe is, doen dié wynmaker gestand aan sy uitspraak. Hy het ook vele trofeë, goud en dubbelgoud medaljes tydens lokale- en internasionale wynkompetisies ingepalm.
Selfs Gansbaai se plaaslike reeks Lo Mond Wyne wat internasionale toekennings verwerf het, vorm deel van sy portefeulje.
Die gaste is met ‘n sprankelende Sauvignon Blanc vonkelwyn verwelkom. Daarna is die volgende geurige wyne van die Durban Hills kelders aangebied en beoordeel (in hakkies),: Sauvignon Blanc 2017 (Silwer); Chenin Blanc 2016 (Silwer); Chardonnay 2016 (Silwer); Pinotage 2015 (Goud); Merlot 2016 (Goud); Cabernet Sauvignon 2016 (Silwer).













