Francette Cillie-Malan se 10de jaar van Winterwarmte
- Beverley Hills -
“Ek het voorberei om vandag 110 kinders hier in Beverley Hills elk van 'n trui en 'n gebreide kepsies te voorsien,” vertel Francette Cillie-Malan. Met Gans-Berg Nuus se besoek aan Francette, was daar alreeds meer as 60 opgewonde kinders, met baie wat nog op pad was daarheen.
Vanjaar se uitdeel van 100 truie en 100 gebreide kepsies het op Woensdag, 30 Maart 2022 plaasgevind. Nogal tydrowend, dié storie, aangesien die truie eers gepas moet word. Dan is daar nog kleur-voorkeure ook! As 'n ekstratjie het elke kind ook nog 'n smaaklike Warmbrak (Hotdog) gekry.
Dit is Francette se 10de jaar om truie en gebreide kepsies uit te deel. Sy het jaarliks self al die truitjies en kepsies gebrei. In haar eerste jaar het sy 110 truie vir Gansbaai Kliniek gebrei en daarna oorgeslaan na Beverley Hills. “Na my kinders se verhuising het eensaamheid my na die breiery gedryf,” vertel sy glimlaggend. “Destyds het Ria van der Merwe my baie met die jaarlikse breiwerk ondersteun.” Francette sê dat sy dankbaar is teenoor haar buurvrou, Tessa Jordaan wat haar nou sowat 2 jaar lank met die breiwerk help. “Dit is baie werk gedurende die jaar, maar die satisfaksie is baie groot om soveel dankbare gesiggies te sien wanneer hulle die nuwe truitjies en kepsies ontvang het,” het Francette gesê.