Historiese ‘1st Thursday’ vir Gansbaai
Die sogenaamde ‘1st Thursday’, elke drie maande, is ‘n geruime tyd voor Covid-19 deur die Overstrandse Uitvoerende Burgemeester, Raadsdame Annelie Rabie ingestel. Dit het ten doel om inwoners geleentheid te bied om letterlik enige vrae oor munisipale dienslewering te stel.
Kort vóór die uitbreek van die pandemie, is ‘1st Thursday’-dae in Hermanus en Kleinmond aangebied. Die pandemie het die aanbieding in Gansbaai verhoed. Gansbaai se ‘geskiedkundige’ eerste dag het op Donderdag, 5 Mei 2022 in die Toerismekantoor plaasgevind. Die byeenkoms is goed deur inwoners met vrae bygewoon en geen vooraf besprekings was nodig nie.
Die Burgemeester en haar span deskundiges het hulself ordelik in onderskeie groepe, volgens die verskillende Direktorate, verdeel. Dit het meegebring dat vrae deur inwoners direk aan die spesifieke Direktoraat-hoofde gestel kon word. Dr Rabie het elkeen van haar bestuurders, asook politici, persoonlik aan die besoekers voorgestel. “Op hierdie wyse kan ons eerstehands uitvind waar ons as munisipaliteit kan verbeter en ook om ons ekonomie en dienste te kan uitbrei,” het sy gesê. “Dit is ook die ideale geleentheid vir inwoners om direk kontak te maak met die politici, asook administratiewe-hoofde.”
Foto 1 (Regs): Raadsdame Riana de Coning, Raadsdame Annelie Rabie (Burgemeester), Dianne Galant
en die Munisipale Bestuurder, Dean O’Neill.
Foto 2 (Bo): Van die politieke verteenwoordigers in ‘n gemoedelike stemming.