
Charl Eksteen op pad na groot rugby-hoogtes
Charl Eksteen, die 17-jarige Gansbaaier oor wie Gans-Berg Nuus onlangs geskryf het, is nou op pad na groot rugby-hoogtes - onder andere met sy droom om oorsee te kan gaan speel. Charl se ma, Adéle Eksteen sê die nodige aansoekvorms is reeds in ‘n proses van finalisering. “Ek glo my seun gaan nog groot hoogtes in rugby bereik,” het sy gesê.
“Ek wil graag almal van harte bedank wat my die afgelope twaalf jaar so getrou ondersteun het om my rugby-drome te verwesentlik,” sê Charl. “’n Opregte en spesiale dankie aan al my borge wat bygedra het, asook my familie, vriende en die gemeenskap van Groter Gansbaai.” Hierdie kranige rugbyspeler het onlangs vir Boland o/18 in die Boland Cravenweek op die veld uitgedraf.
Charl is ‘n Gr 12 leerder aan die HTS Drosdy in Worcester. Sy laerskoolloopbaan het hy by Laerskool Gansbaai voltooi. Sy hart is vanaf kindsbeen af in rugby. Hy is ‘n jongman wat 1.78m in sy rugby-stewels staan en weeg ‘n volle 104kg. Sy posissies op die veld is loskopstut of haker, afhangende van waar hy benodig word. Gans-Berg Nuus wens Charl alle sterkte toe met sy rugbyloopbaan wat op hom wag.