Gansbaai het talent - kom wys dit net!
Gansbaaiers vanuit alle gemeenskappe het die afgelope tyd gulde geleentheid gehad om hulle talente te kom toon en lekker pryse te ontvang - en daar is steeds drie sulke geleenthede wat wag. Anneri Lambrechts van Johnny Rockets is al sedert 1 Julie 2022 besig met ‘n talente-kompetisie waar almal welkom is. Inskrywings vir die kompetisies is gratis, asook toegang tot die kompetisie-aande.
Die eerste en tweede kompetisie-aande op 1 en 29 Julie 2022 het reeds suksesvol plaasgevind, met baie pryse wat gewen is. “Hierdie is werklik ‘Fun-aande’ wat terdeë deur die deelnemers en toeskouers van al ons gemeenskappe geniet is,” vertel Anneri. Pryse vir elke Vrydagaand se kompetisie word direk na afloop van elke kompetisie-aand oorhandig. Die kombuis is elke Vrydagaand oop vir burgers en pizza’s.
Die volgende talent-aande op Vrydae is reeds beplan: 19 Augustus, 2 September en 30 September. Inskrywings sal oop bly tot na 30 September 2022. “Daarna sal die datums vir die semi-finaal en later die finaal bekendgemaak word,” het sy gesê. Johnny Rockets is oorkant Uilenkraalsmond Vakansieoord geleë.
Tydens ‘n sop-en-sjerrie-aand by Johnny Rockets is die pragtige bedrag van R2 000 ingesamel. “Hierdie geld het ons gebruik om kruideniersware vir Silwerjare Dienssentrum en Oak Grove Nasorgsentrum te koop,” het Anneri gesê. Sy en haar kleinseun, Kayden Stevens (5) het die kruideniersware aan Suzanne Hans, Bestuurder gaan oorhandig. Kayden het breë bors van kamer tot kamer gestap en sjokolade aan die inwoners uitgedeel. “Mense besef nie altyd hoeveel selfs net ‘n klomp kruideniersware deur hulle waardeer word nie - elke bietjie stop ‘n gaatjie toe,” sê Anneri. “Ons wil ander besighede uitdaag om dieselfde te doen.”
Kom wys gerus jou talente en wen dalk ‘n prys! Belangstellendes vanuit alle gemeenskappe en selfs besoekers wat graag wil deelneem, kan vir Anneri Lambrechts by 073 318 2024 skakel, of stuur ‘n epos aan haar by annerilambrechts@yahoo.co.
Hardus Botha


