Spesiale Interskole-Wedstryde
Die jaarlikse Groot Interskole 2022 tussen die Gansies (Laerskool Gansbaai) en die Akkedisse (Laerskool De Villiers Graaff, Villiersdorp) het op Saterdag, 20 Augustus 2022 te Villiersdorp plaasgevind.
Ongelukkig was daar 5 x B- en C-spanne wat net as ondersteuners kon saamgaan - daar was nie ooreenstemmende B- en C-spanne teen wie hulle kon speel nie. Hierdie spanne was effens ‘bek-af’. Om hulle steeds op ‘n waardige manier deel van die Interskole 2022 te laat voel, is spesiale Interskole-wedstryde vir hulle gereël - teen Gansbaai Primêr en Laerskool Okkie Smuts op Laerskool Gansbaai se sportgronde. Hierdie pragtige wedstryde is kort na die ‘Big Brag’ van Vrydag, 19 Augustus 2022 gespeel en is goed deur ouers en leerders ondersteun. Dit is groot opwinding om die o/8 rugbyspelertjies dop te hou: “Hulle het nie bepaalde posisies nie, nee, hulle is net oral op die veld!”
Uitslae:
Rugby
o/8 A-span wen 6-0; o/8 B-span wen 6-4.
Netbal
o/11 B-span verloor 1-6; o/12 C-span verloor 1-4; o/13 C-span verloor 2-8.